Sonneblom dag

So nou die dag vind ek uit ek is swanger met my  derde kind.  Ek is uit my vel uit bly.  Ek is seker dis ‘n seunskind en ek gaan dit soooo geniet.Een, twee, drie, blok myself en ek is besig om ‘n kombuis tee te reël vir my jongste.  Sy is toe ‘n dogter by the way. Hoe het dit

gebeur? En waar is die afgelope 25 jaar heen?

Die ergste is dat ek nie ‘n funksie kan reël om my lewe te red nie en van dekor weet ek minder as niks.  My senuwees is op.  Jongste het ‘n idee van almal in ‘n park op kussings by pallets sit en ek wil so graag haar nie teleurstel nie.  Maar om pallets te huur is nie so maklik nie.  Hierdie ou het, maar hy vra ‘n fortuin.  Daai een lewer af en hierdie plek nie.  Party huur kussings uit, maar is nie skaam om stewige prys daarvoor te vra nie.  Miskien moet die mense hul eie bring?  En die ouer dames moet seker maar stoele bring, want hoe gaan ons onder andere my 82 jarige ma van die grond af opkry?  En moet hulle dan op hulle skote eet?  Ek hou op om snags te slaap en vra links en regs raad.Genadiglik dink die nuwe ma ‘n beter plan uit.  Haar skool se personeelkamer.  Klaar stoele en tafels.  Tru projekter vir my movie (my eintlike talent.  Om mal sentimentele  fotos en video’s bymekaar te sit en my kinders op facebook te embarrass. Ek besluit jongste wou juis geld spaar en minste moeite hê.  So ons verander venue.  Dadelik gaan klik een van die bruidsmeisies.

Boonop is daar nie sprake van verrassing nie, want ons doen dit die week voor sy trou.Skoonma neem dekor oor en ek slaag ‘n sug van verligting.  Ek besluit die tema is sonneblomme ter wille van my vrolike, positiewe sonskynkind en dat ek ook geel gaan aantrek.  Ek het laas geel gedra toe ek 16 was en my suster se strooimeisie, maar enige iets vir my kind.  Die eerste winkel het wragtig dan ook mooi geel capri broeke.  Ek pas aan, maar dit sukkel bietjie.  Ek vat liewer die groter nommertjie.  2 winkels later kry ek ‘n lekker los bloesie, want ons het hitte golf om hitte golf en ek kry juis maklik warm.  Aanstaande skoonseun stem in om ‘n lekker lawwe tappit liedjie vir Jongste te skryf waarmee ek die dag se pret kan begin.  Ek herinner weer na ‘n week.  Nee, hy is vuur en vlam.  Sal vir my stuur.  Week later, steeds niks.  Laaste week waag ek dit om bietjie te kerm (nag).  Nee, hy doen dadelik.  Sal sommer ook op ‘n stokkie sit en vir sy ma gee.  Dag van die kombuis tee.Ek is 2 uur reeds wakker.  Bad en als.  Trek aan.  Die broek sit te styf!!  Ek weet ek het nie vet geword nie.  Ek het wragtig vir die eerste keer in my lewe die hanger se nommer gevat en nie in die kledingstuk gekyk of dit reg is nie.  Gelukkig is die bloesie mos groot.  Sal al die sondes bedek.  Toe nie.  Die bloese sit ook te styf.  So toe gooi ek maar ‘n serpie oor en seil voort.   Die venue lyk pragtig, maar ek wil seker maak die tegnologie werk. (ek is reeds later as wat ek wou wees, want ek vergeet my ma beweeg eintlik teen 1km ‘n uur en begin al stadiger loop as ek haar aanjaag)Ek vra aanstaande ma waar is die stokkie met die liedjie?  Sy:  watter stokkie?  Watter liedjie.  Ek bel die man.  Oooo gits.  Maar hy sal stuur.  Ons het seker wifi?  Sy ma skud haar kop.  Ek begin panic.   Op die ou end sit die enigste bruidmeisie wat kon kom (een sit in die Kaap, een in Durban en een isolate)  voor ‘n rekenaar en probeer inderhaas ‘n liedjie op my reeds oorvol stokkie sit.
Maar ek dink nogtans die dag was ‘n reuse sukses.  Die kos was te veel en ek moes ‘n paar keer my sersantmajoor stem uithaal om almal tot orde te roep, maar die 500 foto’s getuig van baie liefde en lag.

Sy het wonderlike raad gekry. Ek hoop as ek hierdie blog oor 10 jaar lees, onthou ek wat die rooi strikkie storie was. Want ek kan dit nie op skrif her haal nie.
Ek wil net nog steeds weet waar die jare heen is.  Wanneer het my  oulike baba in ‘n beeldskone bruid verander??


13 thoughts on “Sonneblom dag

  1. Jy vang my nie sommer in geel nie … maar ek het hierdie toppie … as die winter te lank raak, dan trek ek hom aan (omdat dit soos sonskyn voel). En julle lyk regtig soos twee mooi sonskyn mense! Wat ‘n wonderlike voorreg om so ‘n heuglike dag met jou dogter te deel – love dit!!

    Liked by 1 person

Leave a reply to Dr Christa van Staden Cancel reply