Resessief asb

Ek is nie seker hoe nie, maar my grys oog, rooikop ma en ligbruin oog. blonde pa het gekry om 3 van hulle 4 kinders donker oë en hare te gee.  Ek het vir baie jare begeer om ‘n rooikop te wees voor ek vrede gemaak het met my donker hare.  Soortvan.
Eintlik is my ma se grys oë besonders.  Daar is geen blou of groen ooit by nie.  Staalgrys pappie.  En kan sy ‘n barshou kyk met daai twee oë.  Veral as jy ‘n kelner is en sy die dag lus is vir moeilik wees.
Ma:  Ek kan nie engels praat nie.

Kelner  lyk verbouereerd na ons

Ons:  Wat wil ma drink?

Ma:  mmm…. mmm… wat is hierdie?

Ons verduidelik van fensie koffies en vreemde tee’s.

Ma trek haar neus op en gluur die kelner aan asof dit sy persoonlike fout is dat die restaurantjie fensie goed aanhou.

Kelner begin liggies sweet.

Ma:  Eintlik wil ek melk hê.Ons vertaal. Kelner lyk diep verlig dat hy bevestigend kan antwoord.

Ma: ( vir die kelner wat sy nou vierkantig in die oë staar) Is dit regte melk?

Ons begin byvoorbaat uitvind oor boksmelk versus vars melk, want ons weet wat kom.  Ons was al voorheen hier.  Die kelner duidelik nog nooit nie.Die arme ding is nou ernstig verbouereerd en vlug kombuis toe om uit te vind.

Ons rol net ons oë.  Dit help nie jy preek vir Rooi Anna nie.

Hy kom terug.  Beloof plegtig dis vars melk.  Ma wil wil mik om of die datum van die melk of die ras van die koei te vra (in afrikaans en suiwer net om moeilik te wees), maar ons praat bo oor haar en bestel ‘n glas melk (na ‘n heen en weer beduie van presies hoe groot die glas moet wees) saammet ons fensie koffies en tees.
Ma vat 2 slukkies melk en roep die kelner nader. 

Sy wil asb die res van die glas melk in a take away hê.
Kelner maak so

Ons los ‘n ekstra groot tip. Genadiglik is grys oe resessief.


11 thoughts on “Resessief asb

Leave a reply to Tannie Frannie Cancel reply